Sarie – January/February 2024
Bruce Murray Arnott: Into the Megatext – geredigeer deur Mari Lecanides-Arnott en Sven Christian – gee ’n wonderlike oorsig oor Bruce Arnott se kunsloopbaan. Sy invloed as beeldhouer, vakkundige, ontwerper, kurator en leermeester het ’n beduidende verskil aan die kunstoneel gemaak. Nie net met sy uitstallings nie, maar ook as dosent het hy baie jong kunstenaars gehelp om hul eie kreatiwiteit te ontgin en hul plek in kuns te vind.
Arnott het inspirasie uit die geskiedenis, mitologie, sielkunde, ekologie, opvoedkunde en volhoubare ontwerp geput en dit is ook weerspieël in hoe sy loopbaan verloop het. ’n Uiteenlopende groep bydraers beskryf in hul essays die verskillende aspekte van sy loopbaan en gee insig in hoe hy sy projekte beplan en uitgevoer het. Hulle belig ook sy bydrae tot die opvoedkunde. Die tweede afdeling van die boek bestaan uit artikels en toesprake wat Arnott geskryf het. Die laaste deel bevat ’n chronologiese fotografiese oorsig van al sy beeldhouwerke, asook koerantartikels en sketse met kort beskrywings. Soos ’n mens deur die boek blaai, herken jy sy beelde wat in heelparty openbare ruimtes opgerig is. Waarlik inspirerend!
